Die adjunkpresident sê daar is geen rede om die Onafhanklike Verkiesingskommissie van Suid-Afrika se verkiesingsgereedheid te bevraagteken nie.
Hy sê die OVK het hom die afgelope 30 jaar goed van sy taak gekwyt. Dit is juis een van die redes waarom Mashatile vol vertroue is dat die kommissie oorgehaal is om ook vanjaar se verkiesing suksesvol aan te bied.
Intussen mag oudpresident Jacob Zuma as ‘n kandidaat vir die MK-party tydens die komende verkiesing deelneem. News24 berig die kieshof het laat gistermiddag die beslissing bekend gemaak, nadat die uMkhonto weSizwe-party die OVK se beslissing om Zuma van die kandidate lys te verwyder, in die kieshof uitgedaag het. Die OVK het aangevoer Zuma mag nie as parlementslid dien nie, omdat hy tronkstraf van 15 maande opgelê is.
Die kieshof het die OVK se besluit tersyde gestel en het slegs kortliks gemeld dat die MK-party se appél suksesvol is. Associated Press berig dit laat die deur wawyd oop vir Zuma om die presidentskandidaat vir sy nuwe party te wees.