Altesame 12 mense is sedert die begin van die Paasnaweek dood in voorvalle van massa-skietery. Nog 11 mense moes weens ernstige skietwonde in die hospitaal behandel word. Maroela Media berig die United Democratic Movement sê as die talle massaslagtings wat verlede jaar plaasgevind het in ag geneem word, kan hierdie voorvalle nie geïsoleerd word nie.
‘n Massaskietery by die Imizamo Yethu-township in Houtbaai het Donderdag die lewens van sewe mense geëis toe gewapende mans op inwoners van ‘n huis losgebrand het. Drie mense is vir skietwonde behandel. In nog ‘n skietvoorval in Umlazi in KwaZulu-Natal is vyf mense dood toe ses verdagtes ‘n groep vriende wou beroof. Die mans wou nie hulle selfone oorhandig nie en een van die verdagtes het op hulle begin skiet. Die rowers het daarna nog ‘n man wat oppad was na sy hut, doodgeskiet.
Agt mense is verlede week in Ladybrand vir skietwonde behandel nadat ‘n man in ‘n taverne lukraak op kliente losgebrand het.