Matrikulante neem nou minder welvaartskeppende vakke soos rekeningkunde, fisiese wetenskappe en die moeiliker wiskunde tot in matriek.
Dít luidens die Solidariteit Skole-ondersteuningsentrum, of SOS, se jongste matriekverslag.
Maroela Media berig volgens Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, is dit ʼn uiters kommerwekkende tendens wat vir ‘n aantal jare reeds waargeneem word.
Ondanks dié neiging verwerf skole met Afrikaans as onderrigtaal steeds drie keer meer onderskeidings in wiskunde as al die ander skole in die land.
Volgens Vermeulen dui dit op die waarde van goeie moedertaalonderrig.
Die verslag het ook bevind dat matrikulante veral sukkel om suksesvol te wees in die vakke geografie en bedryfstudies.
Vermeulen het gesê die slaagsyfer vir dié twee vakke is swak en daar is ʼn lae persentasie leerders wat onderskeidings vir hierdie vakke kry.