Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, moet tronk toe het die DA vanoggend gesê omdat die ANC ‘n hofbevel bly minag om die party se kaderontplooiing-rekords bekend te maak. Die DA se LP en woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, Leon Schreiber, het in ‘n verklaring gesê die DA gaan nou die hof nader vir ‘n bevel van minagting van die hof en dat Mbalula in hegtenis geneem moet word. Netwerk 24 berig sedert die ANC appél by die Appélhof onder Mbalula se naam ingedien het, maak hy hom skuldig aan minagting van die hof in dieselfde soort aangeleentheid wat tot die tronkstraf van oudpres Jacob Zuma gelei het. Dit is tyd dat die ANC leer daar is gevolge vir die ondermyning van geregtigheid, het Schreiber gesê. Die Appélhof het op 4 September die ANC se aansoek verwerp om te appelleer teen ‘n uitspraak van die Johannesburgse hooggeregshof wat bevind het dat die ANC sy kaderontplooiing-rekords aan die DA moet oorhandig.
