Meer as ‘n miljoen voertuie sal na verwagting die Paasnaweek die land se hoofpaaie gebruik om by hul bestemmings uit te kom. Times Live berig die Padverkeersbestuurder-korporasie, of RTMC, sê alles is in plek om die verkeer asook ongelukke te hanteer.
Meer as 1,2 miljoen voertuie word op hoofpaaie tussen provinsies verwag. Woordvoerder van die RTMC, Simon Zwane, sê die meeste verkeer word verwag op die N1 tussen Johannesburg en Beitbrug, asook die N1 tussen Gauteng en die roete vanaf Bloemfontein na die Oos-Kaap. Die N3 na Durban sal swaar verkeer dra asook die N4 van Gauteng na Mpumalanga.
Zwane sê daar was 185 ongelukke verlede jaar tydens die Paasnaweek. Vanjaar sal 28-duisend verkeersbeamptes diens doen en bygestaan word deur die polisie en grensbeheer-beamptes. Zwane sê verkeersbeamptes sal veral fokus op dronkbestuur en die veiligheid van voetgangers.