Kankerdiagnoses onder jonger mense het die afgelope drie dekades met byna 80% gestyg terwyl dit beskou word as ‘n siekte wat ouer mense kry. Sommige kankers soos van die maag en pankreas het ‘n lae oorlewingskoers. Navorsing het getoon dermkanker word eers op ‘n gevorderde stadium gediagnoseer onder jong mense vergeleke met ouer mense. Navorsers aan die Queen’s Universiteit in Belfast het ook voorspel dat teen 2030 die aantal mense onder 50 by wie kanker gediagnoseer word, met byna 31% gaan toeneem. Netwerk 24 berig kenners is steeds nie seker wat die oorsaak daarvan is nie. ‘n Genetiese toestand is in 20% van die gevalle die oorsaak van kanker onder jonger mense terwyl leefstyl faktore soos werkstress, eet en drink gewoontes asook rook en oorgewig ‘n rol speel.