ʼn Plaaslike Goedemoed-boervrou deel dat die moord op ʼn 2-jarige peuter verhoed kon word as die polisie haar kreet om hulp met meer ywer hanteer het.
Maroela Media berig dat ʼn man saam met ʼn 21-jarige vrou en ʼn seuntjie verlede week hul plaas besoek het op soek na werk.
Terwyl die man weggestuur is om met die boervrou se eggenoot te praat, het die jong vrou gedeel hoe honger hulle is en die aanrandingswonde op haar suster se kind se lyf gewys.
Die boervrou het die situasie gerapporteer, maar die owerheid het eers ná haar tweede oproep opgedaag en in hul voertuig bly sit.
Die konstabels het laat weet dat dit die welsyn se werk is.
Die seuntjie se lewelose liggaam is ʼn week later in ʼn blou gordyn gevind op ʼn ander plaas, terwyl die Goedemoed-polisie besig is met ʼn interne ondersoek.