Die deelname van Chidimma Adetshina as ‘n Mej Suid-Afrika-finalis het landwyd twis uitgelok, met die Patriotic Alliance (PA) as die nuutste stem wat ook kommer oor haar burgerskap uitgespreek het.
IOL berig dat volgens Kenny Kunene, adjunkpresident van die PA, is die primêre kwessie of Adetshina ‘n Suid-Afrikaanse burger is. Dit, na ‘n video waar sy saam met haar Nigeriese familie fees vier aanlyn opgeduik het. Volgens Kuene is daar teenstrydige verslae en het sy nog nie die kwessie opgeklaar nie.
Die PA ondersoek wetlike opsies om hierdie bekommernisse aan te spreek, insluitend om moontlik ‘n hofbevel te kry om haar deelname te voorkom, indien nodig. Kunene het beklemtoon dat Mej Suid-Afrika as ‘n patriotiese ambassadeur moet dien, en het kommer uitgespreek oor wat hy as arrogansie onder Nigeriese buitelanders in Suid-Afrika ervaar.