Mense wat geregtigheid teen geslagsgeweld soek, het gister buite die landdroshof in Bloemfontein saamgedrom, met die verskyning van twee mans wat beskuldig word van die ontvoering en moord op ‘n 16-jarige skoolmeisie.
Machaka Radebe se vermeende moordenaars, Wiseboy Jozi en Lehlohonolo Rankuoatsana, het gister ‘n tweede keer in die hof verskyn.
Lede van die ANC-vroueliga was onder diegene wat hulle buite die hofsaal teen die moontlikheid van borgtog verset het.Machaka, wie ten tyde van haar dood ‘n leerling van Brebner High School was, het op 2 Desember vermis geraak.
Daar is twee dae later langs die Dewetsdorppad buite Bloemfontein op haar liggaam afgekom. Die saak is tot volgende week vir borgtogaansoeke uitgestel.
Intussen moet Rankuoatsana volgende week weens ‘n onverwante saak in die hof verskyn. Netwerk24 berig hy word daarvan beskuldig dat hy as veiligheidsbeampte
van ‘n transito-maatskappy, nagenoeg R570 000 gesteel het, wat vir OTM’s in Bloemfontein bestem was.