Een Mei is Internasionale Werkersdag, maar met een van die hoogste werkloosheidsyfers in die wêreld, gaan dit maar broekskeur in Suid-Afrika om iets ter viering van dié dag te vind.
Die vakbond Nehawu en die United Africans Transformation, voel benewens werkskepping – veral vir jongmense – moet daar eenvoudig baie meer vir werkers in die land gedoen word.
Dié twee entiteite bult veral spiere oor baie wekers se swak, en selfs skokkende, werksomstandighede.
Dat werkers se regte in talle gevalle nie eerbiedig word nie, het Nehawu ook vuurwarm onder die kraag. Die vakbond het vroeër vandag gesê Internasionale Werkersdag speel hom af teen dit wat hy as ‘n “toenemende krisis van kapitalisme,” bestempel.
Nehawu het ‘n dringende beroep op mense gedoen om saam te staan teen “kapitalistiese uitbuiting, armoede en ongelykheid”.
Werkersdag in Suid-Afrika word sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 erken.