Microsoft sê herstelwerk aan datakabels wat die Afrika-streek bedien, vorder fluks.
Luidens sy jongste verklaring behoort die netwerk teen vieruur vanmiddag, Suid-Afrikaanse tyd, weer op volle kapatiteit te wees. Netwerk24 berig die volledige herstel van dienste is met ongeveer 12 uur vertraag, weens komplikasies met die herstelwerk aan Wes-Afrika se veselkabels.
Microsoft het vroeër vandag gesê hy verstaan die enorme impak van die probleem, en dat dit as hoogste prioriteit, en met dringendheid hanteer word. Mense wat Microsoft-apps, insluitend Office365, Teams en Outlook gebruik, kon van vroeg gistermiddag af nie toegang tot sekere diensteplatforms verkry nie.