Die polisie in die Vrystaat het ’n 20-jarige vrou in hegtenis geneem ná ’n noodlottige huishoudelike dispuut in Grassland, Bloemfontein.
Die Bloemspruit-polisie is na ’n huis in Grassland ontbied waar ’n huishoudelike dispuut uitgebreek het.
Die polisie het met hulle aankoms op die toneel ’n 55-jarige vrou gevind wat in ’n plas bloed gelê het.
Noodpersoneel is na die toneel ontbied waar die bejaarde vrou reeds gesterf het.
Die oorledene se dogter het haar na bewering een keer in die bors gesteek nadat hulle in ’n verbale argument betrokke was.
Die 20-jarige dogter is in hegtenis geneem en sal binnekort vir moord in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
Die omstandighede wat tot die messteek gelei het, sal ondersoek word.