Die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, sê die Gautengse hooggeregshof in Pretoria het geen reg gehad om in te meng met die regering se besluit om die 14-jaar lange Zimbabwe-vrystellingspermitte te beëindig nie. Hy het bygevoeg dat hy wel oop is vir die verlenging van die sperdatum van 31 Desember vir die spesiale permitte, wat wetlike status verleen aan sowat 178-duisend Zimbabwiërs wat in Suid-Afrika woon. Motsoaledi doen aansoek om verlof om te appelleer teen die hooggeregshof se uitspraak van 28 Junie wat die minister se besluit om die permitte te beëindig onregmatig, ongrondwetlik en ongeldig bevind het.
