Die minister van Elektrisiteit, doktor Kgosientsho Ramokgopa, het gister tydens sy weeklikse inligtingsessie weer herhaal dat Suid-Afrikaners kort termyn ongerief moet verduur vir die langtermyn oplossing van die energiekrisis. Dít met verwysing na verlede week se fase 6-beurtkrag. Die minister voorspel dat beurtkrag hierdie week beter sal wees en op laer fases toegepas sal word. Hy plaas sy hoop op die herstel van vyf eenhede by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga. Minister Ramokgopa sê die feit dat die vraag na elektrisiteit weens die warmer weer laer is, kry Eskom ook die geleentheid om belangrike instandhouding te doen.