Minstens 100 mense is dood toe ‘n reuse brand gister by in troue in die noorde van Irak uitgebreek het.
Volgens Washington Post was die onthaallokaal met hoogs ontvlambare panele versier.
Beeldmateriaal wys hoe brandende stukke hiervan na benede val, terwyl trougaste die vlammehel probeer ontsnap.
Irak se nuusagentskap berig die gebou voldoen skynbaar nie aan veiligheidsregulasies nie.
Meer as 150 mense is ook in die brand beseer. Daar word verwag dat die dodetal kan styg.
Luidens beriggewing is die bruid en bruidegom albei in die hospitaal, maar hul mediese toestand is onbekend.
Hoewel die oorsaak van die brand nog bepaal moet word, is daar spekulasie dat ‘n vuurwerkvertoning daartoe gelei het.