Minstens 3 648 kinders tel onder die 8 796 Palestyne wat sedert 7 Oktober in Israeliese aanvalle in die Gasa-strook dood is.
Ontploffings is luidens Reuters vroeg vanoggend in die omgewing van die al-Quds-hospitaal, in die digbevolkte Gasastad gehoor.
Israeliese owerhede het voorheen opdrag aan die hospitaal gegee om onmiddellik te ontruim.
Maar, volgens die Verenigde Nasies, is dit onmoontlik om die hospitaal te ontruim, sonder om pasiënte in lewensgevaar te stel.
Intussen kon ongeveer 320 buitelandse burgers, asook dosyne beseerde boorlinge, gister die grens na Egipte by die Rafah-oorgang oorsteek.
’n Diplomatieke bron het gesê dit sal ongeveer twee weke neem vir die nagenoeg 7 500 buitelandse paspoorthouers om die streek te ontruim.
Dit sluit burgers van Australië, Oostenryk, Bulgarye, die Tsjeggiese Republiek, Finland, Indonesië, Italië, Japan, Jordanië, die Verenigde Koninkryk en die VSA in.
Die Rafah-oorgang na Egipte sal na verwagting vandag vir vlugtelinge oop bly.