Minstens 31 mense, vermoedelik zama-zamas van Lesotho, is glo in ‘n ou ventilasieskag van ‘n myn in die Vrystaat dood. Netwerk 24 berig die departement van minerale bronne en energie het Donderdag in ‘n verklaring gesê die departement van buitelandse sake en internasionale betrekkinge van Lesotho het die hoëkommissariaat van Suid-Afrika oor die sterftes ingelig. Hulle is na wat verneem word in Mei dood in ‘n myn wat laas in die 1990’s gebruik is. Die departement werk saam met Harmony, die myn se vorige eienaar, terwyl inspekteurs vasgestel het dat die metaanvlakke in die mynskag baie hoog is. Drie lyke is glo deur ander onwettige myners na die oppervlak gebring.
