Minstens 500 meter moet ‘n skool van ‘n sopie-kopie skei.
Die Laerskool Onze Rust in Bloemfontein, asook inwoners van Uitsig, is behoorlik dronk geslaan oor planne vir ‘n beoogde taverne om ‘n hanetreëtjie van die skool af nes te skrop.
Volksblad berig Brandon Mortimer het nou ‘n petisie hierteen van stapel gestuur.
Mortimer het gesê mense is erg omgekrap oor die aansoek om ‘n dranklisensie te bekom om ‘n taverne in hulle midde te kom bedryf.
Volgens hom was daar geen geleentheid vir openbare deelname nie.
Kommer bestaan dat misdaad in die gebied kan toeneem, soos blykbaar die geval was toe daar voorheen ‘n taverne en ‘n drankwinkel in die omgewing bedryf is.
Indien die dranklisensie toegestaan word sal die beoogde taverne ‘n skamele 150 meter van die skool se hek af skeutjies skink.