Minstens 60 000 korona-virus-verwante sterftes is sedert 8 Desember verlede jaar in China aangeteken.
Dié skoksyfer het die naweek bekend geword, nadat die Wêreldgesondheidsorganisasie, of WGO, China skynbaar aanhoudend moes pols vir opgedateerde inligting.
Rosestad 100.6FM-nuus het vroeër berig, as data wat net na Kersdag uitgelek het korrek is, was nagenoeg 250 miljoen mense in China reeds in die eerste 20 dae van Desember met die Corona-virus besmet.
Dit sal volgens CNN die grootste enkele Covid-19-uitbreking tot nog toe ter wêreld wees.
Daar heers kommer dat die dodetal nie juis is nie, aangesien dit waarskynlik net sterftes in hospitale weerspiëel.
Die WGO wag ook nog op ‘n uiteensetting van die spesifieke variante wat aan die sterftes gekoppel kan word.