Minstens 62% van die Vrystaat se 3-miljoen inwoners, voer daagliks ‘n verbete stryd om oorlewing.
Die DA se leier in Vrystaat, doktor Roy Jankielsohn, het ‘n minibus-taxi na Rocklands by Bloemfontein gehaal.
Hy sê die lewensgehalte hier, of eerder die totale gebrek daaraan, is hartverskeurend.
‘n Skoolseun in dieselfde taxi, kan slegs een rit per dag bekostig om hom by die skool te besorg. Dit neem hom dan ná skool, twee ure om huis toe te stap.
Dit is ook selde, dat dié jongman nié honger gaan slaap nie. Jankielsohn voorsien, indien daar geen ingryping kom nie, stuur ons teen ‘n ongekende pas daarop af dat ‘n héle generasie slegs armoede en honger sal ken.
Meer as 25 000 leerlinge wat in 2020 met graad tien begin het, is uit die skool voordat hulle matriek in 2022 kon bereik.
‘n Groot aantal gee skool op – en sodoende ook die kans op ‘n beter toekoms – omdat vervoer, klere en ander benodigdhede, weens ewig stygende lewenskoste heeltemal buite hul bereik geraak het.