Minstens sewe mense is deur Kaapse pelsrobbe met hondsdolheid besmet.
Volgens Gregg Oelofse, hoof van Kaapstad se kusbestuurafdeling, sal daar binnekort met inentings begin word om die uitbreking van die siekte onder die seesoogdiere te probeer bedwing. Die inentings sal op sommige robbe getoets word.
Volgens Maroela Media het Oelofse gesê dat hulle alles moontlik doen om te keer dat die siekte na ander robspesies versprei.
Daar is sowat drie jaar gelede vir die eerste keer aggresie onder die Kaapse pelsrobbe bespeur, maar verlede maand is dit bevestig dat dit weens hondsdolheid is. Daar is tans sowat 15 gevalle van hondsdolheid onder robbe bevestig.