Minstens sewe mense is dood, en nog tientalle beseer, in gister se Russiese missielaanval op Kharkiv in die noordooste van Oekraïne. Dít terwyl president Volodymir Zelensky die land se westerse bondgenote berispe, omdat hulle nie genoeg militêre ondersteuning verskaf om Russiese aanvalle af te weer nie. Nagenoeg 11 000 mense in die Kharkiv-streek is volgens die Aljazeera-nuusagentskap, gedwing om hulle huise te verlaat, sedert Rusland twee weke gelede met aanvalle hier begin het. Kharkiv is die tweede grootste stad in Oekraïne.
Intussen sê Donald Tusk, premier van Pole, dat sy land nie vir oorlog voorberei ómdat dit sal gebeur nie, maar eerder sodat dit nié gebeur nie. ‘n Versoek is aan die Europese Kommissie gerig vir ‘n Europa-wye skild om lugaanvalle af te weer. Reuters berig Pole voel veral kwesbaar, met talle missiele wat sy lugruim binnedring, weens die oorlog tussen Rusland en Oekraïne. Tesame met Kyriakos Mitsotakis, eerste minister van Griekeland, bepleit Tusk ‘n gemeenskaplike Europese verdedigingsbeleid. Pole en Oekraïne deel ‘n grenslyn van nagenoeg 500 kilometer.