Minstens een-komma-twee-miljoen hektaar is reeds gedurende vanjaar se brandseisoen verwoes. Boere in vyf provinsies, wat die Vrystaat insluit, sit met brandskade van minstens een miljard rand. ‘n Beroep is nou op die regering gedoen om gedeeltes van die land wat deur brande verwoes is, tot rampgebiede te verklaar.
Savage Breytenbach, hoof van die Mangaungse brandbeskermings-assosiasie, of Mafpa, het aan Rosestad-nuus gesê mense moenie die fout maak om te dink vanjaar se brandseisoen is iets van die verlede nie. Goeie somerneerslae kondig gewoonlik die einde van die jaarlikse brandseisoen aan. Hoewel dankbaar vir elke druppel,het daar tot dusver nog net bietjie reën plek-plek uitgesak.
‘n Naweek-aarskuwing is uitgereik vir uiters gunstige toestande in en om Mangaung, vir die onstaan en verspreiding van wegholbrande. Mense word gevra om eerder die stad se nooddienste te ontbied as om hul eie lewens in gevaar te stel deur self ‘n brand te probeer blus.