‘n Onbekende aantal gewapende rowers het vroeër vandag die voertuig van ‘n afleweringsdiens by die Vodacentre in Bloemfontein bestorm.
‘n Werker het aan Rosestad-nuus gesê minstens een skoot het geklap, voordat die rowers – met voorraad as buit – op die vlug geslaan het. Luidens onbevestigde gerugte, is die verdagtes skynbaar kort ná die rooftog, in die Naval Hill-omgewing vasgetrek.
Eienaar, Natus Fourie, het die rooftog bevestig, terwyl daar intussen op nadere besonderhede van die polisiediens gewag word. Niemand is in die rooftog beseer nie.
Intussen het ‘n juwelierswinkel die Paarl ook vanoggend ‘n misdaadtoneel geword, toe gewapende rowers die eienaar, en sekere werknemers, oorval en vasgebind het.
Kaptein Frederick van Wyk van die polisie het aan Netwer24 gesê die drie verdagtes is met juweliersware en ‘n onbekende geldsom daar weg. Niemand is nog in verband met die roof aangekeer nie.