Die Umkhonto we Sizwe party het ‘n dringende aansoek in die Hooggeregshof in Johannesburg gebring om die SAUK te verhoed om die uitdrukking “Regering van Nasionale Eenheid” – die RNE – te gebruik.
SABC-nuus berig die MK-party wil hê die hof moet bepaal dat dit ongrondwetlik is. Die leier van die party, Jacob Zuma, voer in hofstukke aan dat die SAUK vir miljoene Suid-Afrikaners die enigste nuusbron is.
Hy sê die huidige ooreenkoms in Suid-Afrika – soos wat hy die nuwe politieke bedeling noem – stem nie ooreen met die definisie van ‘n Regering van Nasionale Eenheid nie.
Hy sê die SAUK is doelbewus besig om die publiek te mislei. Die SAUK sê die MK-party se bewerings is irrasioneel en ongeldig.