Die leier van Bosa, Mmusi Maimane, sê daar word daagliks meer mense in Suid-Afrika doodgemaak as die 69 slagoffers wat 64-jaar gelede in die Sharpeville-slagting deur polisiemanne vermoor is. Maimane het die Gugulethu-polisiekantoor besoek om ‘n versoekskrif te oorhandig waarin gevra word dat die minister van polisie, Bheki Cele, afgedank word.
Maimane het gesê Cele laat Suid-Afrikaners onveilig voel. Hy het gesê Sharpeville word elke jaar as Menseregtedag herdenk, maar daar moet ook nagedink word oor die lang stryd vir gelyke regte en hoe om menseregte te bevorder. Maimane het gesê vir miljoene mense bestaan die Grondwet net op papier want deesdae word daar daagliks 83 mense deur misdadigers vermoor omdat die polisiediens ondoeltreffend is.