President Cyril Ramaphosa sal vanmiddag om twee-uur LP’s se vrae in die Nasionale Raad van Provinsies moet beantwoord.
Daar word verwag dat dit ʼn moeilike sessie vir hom gaan wees, nadat die artikel 89-paneel bevind het dat daar skynbaar genoegsame bewyse is om hom in ʼn staat van beskuldiging te plaas.
Daar word verder verwag dat hy vrae sal moet beantwoord oor die land se kragkrisis en die stygende lewenskoste in die land.
Intusssen vra leiers van opposisiepartye dat die president sy amp ontruim weens die bevindings van die paneel.
Daar word vanuit binnekringe berig dat ANC-leiers oor die president se toekoms gaan beraadslaag.
Die DA het gesê die ANC behoort die land eerste te stel, terwyl die UDM-leier, Bantu Holomisa, gesê het Ramaphosa was arrogant genoeg om te dink dat die paneel anders sou besluit het in hulle verslag.
Nog partye, soos ActionSA, die EFF en die Vryheidsfront Plus, het ook ‘n beroep op Ramaphosa gedoen om te bedank.
ʼn Weeklikse nuuskonferensie van Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, wat vir vanoggend geskeduleer was, is gisteraand gekanselleer nadat die uitslag van die verslag bekend gemaak is.