Die Suid-Afrikaanse dokter wat tronk toe gestuur is vir die moord op haar drie dogtertjies by hul huis in Timaru, New Zealand, appèlleer teen haar skuldigbevindings.
Die New Zealand Herald berig Lauren Anne Dickason is verlede jaar, ná ‘n intense en hoëprofiel-verhoor van vyf weke in die hooggeregshof in Christchurch, skuldig bevind aan die moord op haar dogters Liane (6) en 2-jarige tweeling Maya en Karla.
Haar regspan het ‘n kennisgewing van appèl teen skuldigbevinding by die appèlhof ingedien. Die gronde vir die appèl is nog nie bekend nie. Indien die appèl suksesvol is, kan ‘n tweede verhoor gehou word. Geen datum vir die appèlhofverrigtinge is vasgestel nie.