Al die motorfietsklubs in Bloemfontein het vir hul 21ste keer saamgetrek om speelgoed te versamel onder die vaandel “Free State Toy Run” (TROFS).
Die Motorfietsklub Bloemfontein Raad (BCB) het al die reëlings gedoen, en die prettige geleentheid het vroeg die oggend by Pretty Gardens in Langenhovenpark begin, om later weer by Wietzbaden Brauhaus te eindig.
Die BCB-raad het aan Rosestad Nuus verduidelik dat die speelgoed daarna uitgedeel word aan kinderhuise sowel as spesiale tehuise op versoek.
Hierdie jaar was meer as 260 motorfietse betrokke, saam met ‘n paar voertuie wat die insamelings behartig het.
Die oorblywende speelgoed wat nie by geselekteerde instansies uitgedeel is nie, word dan gedurende ‘n aparte geleentheid by ‘n parkie in Hilton uitgedeel terwyl die kinders ‘n kans kry om agterop motorfietse te ry.