Motoriste, veral dié met dieselvoertuie, sal Woensdag met goeie nuus wakker word wanneer brandstofpryse daal.
Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie het aangekondig die kleinhandelpryse van beide grade petrol om middernag met 7c per liter sal daal. Business Day berig die groothandelprys van hoë swael diesel sal met 17c daal, terwyl lae swael diesel met 23c verlaag.
Paraffien se prys verminder met 6c.
Die aanpassings word toegeskryf aan die rand se versterking teenoor die dollar gedurende die hersieningsperiode.
Die internasionale prys van petrol en paraffien het gestyg, terwyl diesel gedaal het. Hierdie nuus bring verligting vir motoriste ná vier opeenvolgende maande van prysverhogings.