Suid-Afrikaners wat reisplanne het vir die Nuwejaar, moet oorweeg om brandstof voor Woensdag op te vul.
News24 berig dit is wanneer ‘n beskeie styging in petrol- en dieselpryse in werking tree.
Die Minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe het aangekondig dat die prys van 93-oktaan petrol met 19 sent per liter styg, terwyl 95-oktaan petrol met 12 sent per liter duurder word.
Diesel (0.05% swael) styg met 7.50 sent per liter en 0.005% swael diesel met 10.50 sent. Verligtingsparaffien se groothandelsprys sal met 9.50 sent per liter daal.
Hierdie veranderinge tree op 1 Januarie in werking, as gevolg van ‘n daling in die rand/dollar-wisselkoers en ‘n effense styging in Brent-ruoliepryse.