President Cyril Ramaphosa het aangekondig dat befondsing van R500-miljoen beskikbaar gestel sal word vir sommige winkels in townships en in landelike gebiede.
Dit hou verband met die krisis oor die onlangse sterftes van minstens 22 kinders – wat eetgoed by sekere winkels gekoop het. Sedert die begin van September was daar landwyd 890 gevalle van skoolkinders wat siek geword het.
LEES MEER: Ramaphosa maak stem dik oor spaza-winkels
SABC-nuus berig die gesamentlike fonds deur die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging en Kleinsake-Ontwikkeling het ten doel om winkels in dié gebiede te omskep in behoorlike, wettige ondernemings – en ook te help met tegniese steun en vaardighede.