‘n 24-Jarige man is op Dealesville in die Vrystaat in hegtenis geneem op aanklagte van moord, huisroof en besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Dit, nadat daar vroeër op die liggaam van Mosiwa Tshabagae, wat ‘n onderwyser by die Kgololosego Sekondêre skool op die dorp was, afgekom is. Van sy kollegas het onraad vermoed toe hulle nie vir Tshabagae in die hande kon kry nie.
Sy kollegas het na sy woning gegaan, wat op die skoolterrein is, en op sy bebloede liggaam afgekom. Verskeie items is geneem. Die polisie het onmiddelik ‘n soektog van stapel gestuur en die verdagte vasgetrek waar hy van die oorledene se klere aangehad het wat steeds bloedvlekke opgehad het. Van die oorledene se ander besittings is ook in die verdagte se besit gekry.
Inwoners wou hom aanval maar SAPD-lede het daarin geslaag om hom te verwyder. Die verdagte bly in aanhouding en sal op 25 September in die Dealesville-landdroshof verskyn.