‘n Babaseuntjie wat versteek onder grond en sinkplate by ‘n kerk in die Oos-Kaap gevind is, is stabiel in die hospitaal. Netwerk 24 berig die baba is Sondagoggend deur gemeentelede by ‘n kerk in die Cacadu-polisiegebied aangetref.
Die ma van die baba, wat met sy naelstring gevind is, kon nog nie opgespoor word nie. Die kaal babatjie is in die Indwe-hospitaal opgeneem. Personeel het dadelik begin om geld in te samel om klere en doeke vir die baba te koop. Sizwe Kupelo, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van gesondheid, het gesê die baba is skoongemaak, warm gehou en daar is met voeding begin. Die baba is enkele dae oud en het ‘n paar kneusplekke. Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.