‘n Vroulike dronkbestuurder wat in Amerika in hegtenis geneem is nadat sy teen ‘n padteken vasgery het wat motoriste waarsku teen dronkbestuur, is tot drie-jaar korrektiewe toesig gevonnis. AFP berig die vrou, Clarissa Hernandez het volgens die polisie ‘n half-liter tequila gedrink voordat sy in die elektroniese bord in Palm Springs vasgeploeg het. Beamptes wat ‘n nabye padblokkade beman het, het aangestorm terwyl Hernandez uit die verfrommelde Land Rover gesteier het. Die polisiebeampte wat haar verklaring afgeneem het, het gesê sy kon nie op haar voete staan nie en was vyandig. Die 27-jarige Hernandez van Texas het Woensdag in die hof skuldig gepleit aan die mindere klagte van die verset teen inhegtenisneming en bestuur onder die invloed van alkohol.
