’n Verdagte vir bootreisbedrog is opgespoor en in hegtenis geneem, waarna hy na verwagting Donderdag voor die Bethlehem-landdroshof moet verskyn.
Die Vrystaat Provinsiale Kommersiële Misdaadseenheid het die beweerde swendelaar in Bohlokong, in die Noord-Vrystaat, in hegtenis geneem.
Die saak hou verband met ‘n bedrogsaak rakende ‘n vals bootreis.
Luidens ’n polisieverklaring word beweer dat die verdagte tussen Maart 2023 en Desember 2023 met ongeveer 30 mense van Bohlokong in Bethlehem reëlings gemaak het vir ‘n Mosambiekse bootreis.
Die groep het ‘n 34-jarige man, wat beweer het hy is ‘n agent van ‘n reisagentskap, vertrou om die reisbesprekings te fasiliteer.
Altesaam het hulle glo ‘n totaal van R150 000 gedeponeer.
Toe die reis nader kom, het hy glo met die fondse verdwyn.