Die hartseer en trauma van ouers wat ‘n kind aan die dood afstaan ken geen perke nie.
‘n Bloemfonteinse egpaar, Dewald en Yolandi Fourie, wat hulle sonskynkind, Karla, op die ouderdom van 22 maande moes groet, is deur hul swaarkry en seer gelei om nou ondersteuning aan ander ouers te bied wat hierdie ondenkbare pad moet stap.
Die Pace Foundation is Saterdag amptelik by die Kloppers-marathon in Bloemfontein van stapel gestuur.
Die egpaar wat met Saterdag se marathon vir die Comrades gekwalifiseer het, het ook dié wedloop ten bate van die stigting se eerste begunstigde, die 21-jarige Johané Scott, voltooi.
Hulle samel geld in om vir haar ‘n spesiale rolstoel te koop waarmee sy parkwedlope kan aanpak.
Besoek die Pace Foundation se Facebook-blad of webtuiste vir meer besonderhede oor hoe om geld te skenk of andersins by die stigting betrokke te raak.