‘n Bloemfonteinse student is dood nadat hy Saterdagaand in die Universitas-woonbuurt in die agterkop geskiet is.
Volksblad berig die 23-jarige Siyawandisa Ruda, ‘n senior student in ouditkunde aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, en sy 20-jarige meisie, is Saterdagaand omstreeks elfuur op die hoek van John Knox-straat en Calvynsingel aangeval.
Die meisie het ‘n motor in die omgewing sien rondry.
Kort hierna het twee mans, wat waarskynlik insittendes van dié motor was, haar en Ruda te voet begin agtervolg.
Terwyl een van die mans die meisie aangeval en van haar besittings beroof het, het die ander rower Ruda agternagesit.
Die verdagtes het in ’n ou model Mercedes-Benz-sedan gevlug.
Die meisie het Ruda bewegingloos in die pad, met ‘n skietwond aan sy agterkop, aangetref.
Ruda is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Die polisie het ‘n 9 millimeter-patroondoppie op die toneel gevind en klagte van moord en gewapende roof word ondersoek.