‘n Boer van Limpopo kon net met sy hande in sy hare staan nadat inwoners van die omgewing by sy plaas opgedaag het en sy hele oes mango’s en waardevolle items gestroop het. Matome Solly Letsaolo, wat al 11-jaar naby Tzaneen met groente en vrugte boer, het aan Maroela Media gesê hy word al vir meer as twee weke deur gemeenskappe rondom sy plaas geteister. En, terwyl sy plaas leeggedra word, staan die polisie met hul hande gevou. Letsaolo het gesê dit is nou die seisoen waar sy mango’s vir atjar geoes word, maar al sy mango’s is weggedra. Ander waardevolle items van meer as R1 miljoen is ook gesteel. Die boer het sy hele jaar se inkomste in ‘n week verloor. Hy het later gehoor die stropers het sy mango’s aan ‘n voedselverwerkingsmaatskappy verkoop wat atjar maak en die geld in hulle sakke gesteek. Hy het ‘n klag van diefstal by die polisie geopen, maar kort daarna het nog mense by sy plaas opgedaag met knopkieries en pangas en verder gesteel. Letsaolo het gesê die polisie tree nie op nie en hy het ook nog nie ‘n saaknommer gekry nie. Die polisie het nog nie kommentaar gelewer nie.