Ná ʼn bootongeluk by ’n oord in Winburg word een man vermis, terwyl ʼn ander gesterf het.
Volgens ʼn polisieverklaring het die boot op 30 Desember na bewering omgeslaan, wat die lewe van ʼn 25-jarige man geëis het.
Polisiewoordvoerder Sers. Mahlomola Kareli voeg by die voorlopige ondersoeke toon dat vier mense – twee vroue en twee mans – op die boot in die dam was toe dit omgeslaan het.
Die twee vroue het daarin geslaag om na die wal te swem, maar een van die mans het vasgeval by die boot se motor. Hy het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel oorlede.
Die ander man het na bewering verdrink en word sedert die ongeluk vermis. Die polisie se duikspan is na die toneel ontbied, maar moes die soektog weens swak lig opskort.
Die polisie het ‘n geregtelike ondersoek geopen, en die soektog sal na verwagting Dinsdag op 31 Desember 2024 hervat.