Standbeelde van meer as R50 000 is Vrydag op oudpresident Paul Kruger se historiese Boekenhoutfontein-plaas by Rustenburg in Noordwes gesteel.
Maroela Media berig dit sluit ʼn borsbeeld van Kruger, ʼn beeld van ʼn soldaat en twee metaalbeelde van leeus in.
Daar is reeds vergeefs by verskeie skrootwerwe na die beelde gesoek.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, of die FAK, help nou ook om die standbeelde te probeer opspoor.
Rosestad 100.6FM-nuus het in Desember berig die bronsletters van die naam van die boereheld, Christiaan Rudolph de Wet, is van die monument vir gestorwe Eerste Wêreldoorlog-soldate op Hoffmanplein in Bloemfontein deur vandale gestroop.
Die FAK in die Vrystaat het Hoffmanplein in November besoek, waar meeste van die bronsplate met die name van soldate wat gesneuwel het, reeds deur vandale verwyder is.