‘n Botshabelo-roofverdagte, wat deur die ondersoekafdeling van die Bloemfonteinse Valke vir ernstige georganiseerde misdaad gesoek was, is gevind.
Letsika Cosby Mmola is in Sharpeville in hegtenis geneem en na Bloemfontein oorgeplaas.
Hy het in die Bloemfonteinse landdroshof op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van vuurwapens en die onwettige besit van ammunisie verskyn.
Die Valke se speurder, Jan Basson, het vroeër aan Rosestad-nuus gesê die 34-jarige man het glo saam met ‘n groep verdagtes in November 2022 ‘n onbekende bedrag kontant uit ‘n kontantafleweringswa in Botshabelo geroof.
Mmola is tans in aanhouding tot sy verhoor volgende week in die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein begin.