Drie mense is oorlede in ’n noodlottige botsing op die N6-hoofweg, sowat 3 kilometer buite Smithfield in die Xhariep-distrik.

Luidens ’n berig deur Arrive Alive het ’n Toyota Quantum-minibustaxi en ’n Scania-vragmotor ’n botsing van voor gehad.

Die vragmotor, onderweg van die Oos-Kaap na Bloemfontein, het ná die botsing aan die brand geslaan. Die taxi, wat na die Oos-Kaap op pad was, is ernstig beskadig. Nooddienste het vinnig gereageer, maar ongelukkig is drie mense, twee mans en ’n vrou, op die toneel dood verklaar. Een persoon is na die Stoffel Coetzee-hospitaal in Smithfield geneem.

Die N6 was in beide rigtings gesluit, en motoriste moes alternatiewe roetes gebruik. Terwyl die saak ondersoek word, het Arrive Alive aan Rosestad Nuus bevestig dat die pad weer oop is vir verkeer.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×