“Ek is op pad Parys toe om vir ons Springbokke te gaan sê dat 62 miljoen Suid-Afrikaners bankvas agter die manne staan.”
Dit was president Cyril Ramaphosa se breëbors-boodskap, voordat hy gistraand ‘n vlug na Frankryk gehaal het.
Natuurlik skree die ganse land ewe hard vir ons krieket-trots. Die Proteas het Pakistan gister in ‘n naelbyter-stryd by vanjaar se Wêreldbeker
Kriekettoernooi in Indië geklop. Die Proteas is nou bo-aan die punteleer.
Met verwysing na Madiba se reënboognasie-vlag in die hand, het Ramaphosa gesê, “hierdie landsvlag gaan hemelhoog vlieg”.
‘n Rosestad-personeellid se dogter wie in Europa skoolhou, wou intussen vroeër van haar ma weet of dit régtig waar kan wees, dat president Cyril Ramaphosa aan Suid-Afrikaners ‘n vakansiedag gaan toestaan, sou die Bokke vanaand ‘n vierde keer die Rugby Wêreldbeker wen.
Dit blyk egter dat hierdie Bloem-gebore 27-jarige onnie nie die enigste “expat” is wat hieroor wonder nie. EWN skryf Vincent Magwenya, die man wat namens Ramaphosa praat, sê Suid-Afrikaners van regoor die wêreld het die presidensie met ‘n mágdom boodskappe oorval.
Hulle wil weet of die vakansiedag-storie waar of wolhaar is. Terwyl Magwenya nie die vraag ontduik het nie, was hy redelik “polities-korrek,” en taamlik vaag, met sy antwoord . . . die president het vir my gesê ek moet die boodskap aan sy mede-Suid-Afrikaners oordra dat hy dit beslis oorweeg.