‘n Jong wetenskaplike maak nou naam nadat hy aangewys is as die wenner op die Internasionale Eskom-ekspo met sy omgewingsvriendelike papierstrooitjies. Die 13-jarige Darren Chen van die Primêre Skool Ladybrand het ook R20 000 prysgeld gewen vir sy patent, berig Netwerk 24. Hy is een van tien leerlinge wat nou ook vir 12 maande ‘n mentorskap-program aan die Durbanse Universiteit vir Tegnologie kan bywoon. Chen se strooitjie is van ‘n sekere soort papier gemaak wat gewoonlik vir kunsvlytprojekte gebruik word. Chen het gesê die strooitjie bied die beste weerstand teen vloeistowwe en dat dit nie met die eerste kontak pap word nie. Dit is goedkoop en ‘n goeie manier om te wys ons is lief vir die aarde, het Chen gesê.
