’n Dringende aansoek is by die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien wat eis dat die Mangaung-metroraad moet ontbind.
Daar is 12 respondente in die saak wat deur die Mangaung Service Delivery Forum en Forum 4 Service Delivery aanhangig gemaak is.
Netwerk24 berig die hofdokumente is gistermiddag op die raad bestel net toe ’n chaotiese vergadering tot ’n einde gekom het.
Onder die 12 respondente tel president Cyril Ramaphosa en Mxolisi Dukwana, nuwe premier van die Vrystaat.
Gister se raadsvergadering het in chaos geëindig omdat die vereiste 51 stemme om die aansuiweringsbegroting goed te keur, nie behaal is nie.
Ongelukkigheid heers ook oor Mokgadi Kganakga, DA-raadslid, se uitlating dat die metro se amptenary van die oggend tot die aand in die Bram Fischer-gebou sit en “vis en chips” eet, pleks daarvan om dienste te lewer.