’n Vrou van Bloemfontein soek geregtigheid nadat sy beweer ’n dronk polisiebeampte het haar in die gesig geslaan en aangerand.
Dit het glo gebeur toe hy haar huis besoek het om ’n verklaring ná ’n inbraak af te neem.
News24 berig dat, volgens Kenalemang Joyce Mokhoabane, die beampte op 6 Maart met versterkings teruggekeer het om haar in hegtenis te neem vir beweerde aanranding op hom.
Sy is blykbaar vrygelaat ná ure in aanhouding en moes in die Batho-landdroshof verskyn, maar die saak is glo nie aangehoor nie.
Volgens News24 vrees sy vir haar veiligheid en voel dat die polisie haar teiken.
Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek tans die voorval.
Die beampte is glo nog nie in hegtenis geneem nie.