‘n Elf-jarige kind is doodgeskiet en ses mense is beseer tydens ‘n skietery by die woonhuise van plaaswerkers van die kersieplaas, Iona, langs die hoofpad naby Ficksburg.
Polisiewoordvoerder, adjudant Mmako Mophiring, het aan Rosestad-nuus gesê twee aanvallers het Sondagaand omstreeks tienuur langs die R26 gestop en op die werkers losgebrand. Die 11-jarige seun is in die maag geskiet en is op die toneel dood. Die ses beseerdes is na die plaaslike hospitaal geneem vir behandeling. Mophiring sê die motief vir die aanval is onbekend. Die polisie het ‘n soektog begin na die verdagtes en volg alle leidrade op.