Die geskorste prokureur, Lebohang Mokhele, is Dinsdag vir bedrog en minagting van die hof buite die hooggeregshof in Bloemfontein in hegtenis geneem.

Volgens News24 volg dit oomblikke nadat die waarnemende Vrystaatse regter-president, Martha Mbhele, vir hom gesê het hy het geen reg om voor haar te verskyn in die asbes-bedrogsaak nie – en hom uit haar hofsaal gelas het.

Mokhele het sy van na Sondhlame verander nadat hy deur die Regspraktykraad van wanbesteding van trustfondse aangekla is.

Hy het die voormalige direkteur van die voorsieningskettingbestuur by die Vrystaatse departement van menslike nedersettings, Mahlomola Matlakala, wat saam met die voormalige Vrystaatse premier Ace Magashule in die asbes-bedrogsaak van R255 miljoen tereg staan, verteenwoordig.

Hy sal na verwagting Woensdagoggend in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

error: Inhoud is beskerm !!