Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) is bekommerd oor die groot aantal junior dokters wat ondanks die voltooiing van hul gemeenskapsdiens, werkloos is. Maroela Media berig meer as 1 800 dokters landwyd word hierdeur geraak.
Volgens die SAMV is dit onaanvaarbaar dat hoogs gekwaliseerde professionele persone nie in diens geneem word nie, veral aangesien gemeenskappe steeds ‘n dringende behoefte aan gesondheidsorgdienste het. SAMV sê hierdie situasie vererger die reeds bestaande tekort aan mediese personeel, wat oorwerkte en uitgebrande gesondheidswerkers tot gevolg het.
Dit plaas ook verdere druk op ‘n gesondheidstelsel wat reeds onder spanning is. Dié vereniging is besig met ‘n nasionale opname om die data oor vakante poste en aanstellings in hospitale in te samel.